Get Adobe Flash player

Pro Mania Classroom

Welcome to the Pro Mania Classroom section of our website.

As die jong laities Japanese streke trek, vat ons groot manne houe!

Waterpas

As die jong laities Japanese streke trek, vat ons groot manne houe!

Deur: Tom Ebersohn

 b2ap3_thumbnail_Tom_20150729-171908_1.jpg

Wat het Brighton se Community Stadium en Krugerdrift in gemeen? So breek die lang verwagte 19de September aan – Bloemfontein Hengelklub het ‘n klubkompetisie by Krugersdrift se waterwese oewer en die Bokke speel hulle eerste wedstryd in die Wêreldbeker teen Japan. Die versoek gaan uit aan alle hengelaars in die klub dat ons selfs met ons Springbok truie moet kom hengel om ons ondersteuning aan die bokke te toon en so ook bietjie gees te bou in die proses. 

Ons kom bymekaar 05h30 vir die dag se reëlings en die loting van die penne. Tiaan (my laaitie) trek vir ons ‘n pen op die regter sone. Hierdie water is ‘n norm dieper water, maar het ook bietjie meer haakplek. Groter vis kom ook gewoonlik ook aan hierdie kant uit, maar die linker sones bied gewoonlik weer meer vis. Die uitdaging is dus om nie vis te verloor nie en om soveel groot vis moontlik in die sak te kry. 

Hierdie keer los ek die 2 meisiekinders by die huis want Kabous - (Elandri) - was bietjie olik deur die nag. Maar toe Kabous haar oë die oggend oopmaak en pa is dam toe, toe heers daar chaos in die huis, en mamma besluit toe om hulle later deur te bring….

b2ap3_thumbnail_Tiaan-Ebersohn-1.jpg

Die wind kom in die regte rigting, skuins van voor en die vooruitsigte lyk goed vir die dag! Tiaan haal sy twee 10 voet stokke af en met die lui van die sirene skop hy op ‘n afstand van 60 en 80m af. Pa ken mos maar net een manier en besluit aangesien die laaitie kort vis sal ek maar dieper gaan en skop op 110 en 135 af. Bykans ‘n halfuur in die geveg vang ek my eerste karpie van so 1kg op die 135m merk. Myne was skaars in die hounet of Tiaan se stok trek weg met ‘n bielie van bykans 4.2 kg! Sowat 5 minute later en daar trek sy ander stok ook weg met nog ‘n karp van oor die 2kg….

b2ap3_thumbnail_Tom-Ebersohn.jpg

Mooi Karp van Bykans 4.2 kg

Maar ek is mos slim en ek gooi die stok weer op die 135m merk en kry ook sommer vining weer daar ‘n byt – hierdie keer kom die vis af, en daar slaan die Laitie wragtig nog ‘n dikke binne die volgende halfuur. My 110m stok kry ook ‘n byt en weereens verloor ek hom met ‘n paar hakke wat pla. Die mannetjie se stok trek weer los en hy vang nog ‘n karp. Teen hierdie tyd is ek al lekker omgeroer oor die mannetjie wat besig is om hand uit te ruk en besluit toe om die 110m stok nader te bring na 60m…

Selfde aas word aangewend as wat die Laitie opsit en op dieselfde afstand gewerp, maar niks! Daar trek die 135m stok weer weg en nog ‘n 1kg karpie word in die net gesit. Nou sit ek tussen 2 vure, want daar vang die mannetjie nog ‘n vettie. Ek gooi die een stok weer op 135m en worstel met die ander een op 60m. Weer trek die 135m stok weg en ek en die Laaitie is gelyk op vis maar hy is my myle voor met gewig….

Die klein rakker vang toe weer 2 mooi karpe sommer kort op mekaar, terwyl ek darem by hou met 2 van my eie karpies. Ek verloor egter weer 3 vissies in ‘n ry en die telling is steeds gelyk, maar die gewig skiet kort! Ek besluit om oop te loop met albei stokke binne, want as ek die hoeveelheid vis kan kry kan ek die gewig opmaak. ‘n Paar van my karpies gaan klim egter boom, (haak) agter in die dam en ek verloor op die einde 6 vis. 

En so gaan die dag aan en pa bloei redelik hard teen die tyd dat die hoeter blaas.  Pa het 10 vis en die Laaitie het 10 vis! Pa se sak weeg 9kg en die Mannetjie se sag weeg 18kg – op die neus!

b2ap3_thumbnail_Tiaan-Ebersohn.jpg

Die “Laitie” (Tiaan) met ‘n mooi sak vis.

Kabous het toe ook darem by die dam uitgekom en het self ook darem 2 mooi karpe gevang!

 

b2ap3_thumbnail_Elandri.jpgb2ap3_thumbnail_Inweeg.jpg

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Tiaan wen so ook dan ons Zone vir die dag en eindig ook welverdiend algeheel 2de vir die dag! Die aand sit ek en kyk (ten spyte van die hou op die neus van die dag se hengel) heel opgewonde die eerste wedstryd van die Bokke teen Japan. En daar voel dit soos “déjà vu” en ek herleef die hele dag weer oor in die volgende 80minute…..

Sterkte tot volgende keer......

Rate this blog entry:
3 Oktober 2015-Vaal HK Oosthuizens
10 Oktober 2015-JR Pro Mania De Rust